Massa Kindermoord

Die massa kindermoord wat in die wêreld (1 biljoen die laaste 100 jaar; tans so 73 miljoen elektiewe aborsies per jaar – 200 000 per dag) en spesifiek in Suid-Afrika (ongeveer 2.2 miljoen kinders sedert 1997; tans so 100 000 per jaar) besig is om plaas te vind, kan en mag gelowiges in Suid-Afrika nie neutraal en gevoelloos los nie.

Die kinders wat in die baarmoeder deur mediese prosedures, mediese pille of mediese apparate vermoor word, word ten sterkste deur God veroordeel (Spr.6:16-17). Hierdie veroordeling van God oor die sonde van kindermoord gee tog ʼn geleentheid om aan mense die goeie nuus oor Jesus te vertel. Want dit is Jesus wat aan die kruis ook vir die sonde van kindermoord betaal het. Daar is altyd vergifnis by Jesus vir die wat na Hom bekeer en glo dat Hy vir al hulle sondes gesterf het (1 Pet. 3:18).

Hoe weet ons dat kinders van ontvangenis af, wanneer die sperm en eiersel ʼn nuwe lewe vorm, ʼn volwaardige mens is, en dat hy/sy nie in die baarmoeder doodgemaak mag word nie? In Psalm 51:7 leer ons dat elke mens in sonde ontvang word. Tog is dit slegs ʼn mens wat sonde het en wat sonde kan doen, daarom is elke lewe in die baarmoeder ʼn volwaardige mens by ontvangenis.

Verder verbied God in die sesde gebod dat mense, en dus kinders, doodgemaak word. Die ma wat haar kind doodmaak is dus skuldig aan moord, so ook die pa, dokter of enige ander persoon wat help om die kind dood te maak.

Mag die kerk van ons Here Jesus Christus opstaan met ʼn duidelike stem teen hierdie bose praktyk om kinders aan Molog te offer (Lev. 18:21). En mag gelowiges so die ware godsdiens bedryf wat die weeskinders in hulle nood help (Jak. 1:27). Ja, die kinders wat deur hulle ouers verwerp word om doodgemaak te word, is in werklikheid weeskinders.

Mag die Here ons genadig wees.

Sien die artikel op Maroela Media hier: https://maroelamedia.co.za/debat/briewe/lesersbrief-aborsie-mag-ons-nie-gevoelloos-los-nie/